Marita van der Vyver — argief← Terug na die webwerf

spacer

header

home
biography
books
reviews
interviews & articles
awards
photos
news
contact me

facebook
français

04 OKTOBER 2019
Vrye Weekblad

Dis die beste tye, dis die slegste tye. Sy is nie spyt dat sy in die tydperk van ontnugtering leef nie, sê DEBORAH STEINMAIR. Onsekerheid en chaos is vol moontlikhede, al wek dit by baie mense ’n bittersoet verlange na ’n era van sekerhede.

EK is jammer oor die dood van onskuld en idealisme, maar ek is verheug om in die moderne era te woon, selfs al wankel die planeet op haar laaste polvy en word Asperger-kinders wat die swaard teen klimaatverandering opneem, deur gierige grootmense belaglik gemaak.

In sy “Preludes” skryf T.S. Eliot oor “Short square fingers stuffing pipes / And evening newspapers, and eyes / Assured of certain certainties”.

Van optimisme na oorloë

Eens was die wêreld vas oortuig van sekere absolute waarhede. Ek dink dit was voor die Eerste Wêreldoorlog – ’n gees van optimisme het geheers, want vooruitgang het mense se lewensomstandighede verbeter en hulle het geglo dit gaan ál beter raak onder die maan.

Natuurlik sien die Masters of War toe hierdie liggelowigheid as ’n gaping en slaan munt uit wapens en verwoesting. Ná twee vernietigende wêreldoorloë bly die mens se onskuld op die slagveld agter. Idealisme het verdag geraak, optimisme pateties.

Kuns verander saam met die Zeitgeist. In die eeue van optimisme was beeldhouwerke amper fascisties perfek: die menslike liggaam gespierd, soepel en na aan volmaak. Die argitektuur was groots en aanbiddend: hoë suile en koepels, spits torings wat wolke toe beur.

In musiek dawer triomfantelike marse en toonleer verwikkelde simfonieë hunkerend hemelwaarts. Letterkunde was ook gewigtig: gedrae, dramaties, fundamenteel. Soos die Bybel: die mens as pelgrim, ridder, vegter; edel en heldhaftig op soek na redding en ewigheidswaarde.

Gelukkig was daar altyd uitsonderings, soos Cervantes, wie se Don Quixote ’n anti-held was, en Shakespeare, wat die mensdom met ’n siniese houtoog beskou en in al sy platvloerse ongepoetsheid uitgebeeld het.

Die sieners

Daar was korrelkoppe soos Charles Dickens wat meer skakerings as sy tydgenote gesien het.

Só begin A tale of two cities: “It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of Light, it was the season of Darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair…”

Klink ultramodern, nie waar nie? Selfs in die Bybel was daar die Prediker wat moeg verklaar het dat alles vergeefs en ’n gejaag na wind is.

Ja, sekere kunstenaars was nog altyd sieners, ongebonde aan hul epog. N.P. van Wyk Louw het nie die fascistiese, idealistiese tydsgees wat nog hoogty gevier het, vrygespring nie, en tog kon hy strofes skryf soos: “Ek is jou wese se ondergrond / en ek trap op jou spoor / soos ’n goeie hond” (“Ballade van die Bose”).

Dan was daar natuurlik die swartgallige, gefolterde arts en natuurwetenskaplike Eugène Marais, wat troosteloosheid so onvergeetlik kon verwoord soos die lied van ’n meisie in haar liefde verlaat.

Maar hulle het so aan die begin van die tydperk van ontnugtering geleef.

Einde van ’n era

Voorbeelde van Afrikaanse skrywers in die ware era van onskuld is Totius. Hoewel hy ook maar ’n troebel tortel was, het hy immer opgekyk na sy ware woning wat bo die wolke wag. En Johannes van Melle se Bart Nel het so onwrikbaar in sy eie waarheid geglo dat hy geweier het om sy diep berouvolle owerspelige vrou te vergewe: “Ek is nog hy.”

Maar ons het die era van swiepende uitsprake agtergelaat, die tyd toe skrywers hul boeke só kon begin: “Happy families are all alike; every unhappy family is unhappy in its own way" (Tolstoy, Anna Karenina). Sulke outoritêre oortuigings en dawerende uitsprake kom vandag meestal in sepies voor: “Like sands through the hourglass, so are the days of our lives.”

‘Die mens se hunkering na hoop en optimisme skyn egter ongeneeslik te wees.'

Onsekerheid en chaos is kreatief, dis vol moontlikhede.

In “The love song of J. Alfred Prufrock” reken Eliot daar is “time yet for a hundred indecisions / and for a hundred visions and revisions”. Ook: “I have seen the moment of my greatness flicker / And I have seen the eternal Footman hold my coat, and snicker, And in short, I was afraid.”

Leonard Cohen verklaar homself “the patron saint of envy and a grocer of despair”.

Lesers bly hunker na hoop

Die mens se hunkering na hoop en optimisme skyn egter ongeneeslik te wees. Watter boeke verkoop die heel beste in

Afrikaans? Behalwe soete liefdesromans waar die huweliksklokkies ten slotte alle twyfel wegbeier, is dit boeke soos Dalene Matthee s’n.

En wat het sy gedoen? Sy het dawerende, Bybelsklinkende uitsprake gelewer, soos skrywers vóór die groot oorloë. “God vergewe ons baie dinge, maar hy vergewe ons nie die onreg wat ons ’n kind aandoen nie.” Regtig? Wie weet. En lesers gryp daarna soos na strooihalms in die storm. Dit resoneer tot diep in hul gebeente.

Vergelyk dit met Ingrid Winterbach se romans waarin daar geen sekerheid is nie, waarin karakters shapeshift en eenvoudig nie heeltemal vas te pen is nie. Wie verkoop die meeste boeke? Die antwoord op hierdie vraag laat ’n mens dink die meerderheid hou van sekerheid en teelepelvoerdery. Helaas.

Dit bring my by nog ’n reuse- gemene deler: nostalgie. Die bittersoet verlange na ’n era van sekerhede. Mense verlekker hul graag in ’n mooier verlede, hunker na oomblikke van oortuiging en tuishoort. En dit alleen is hoogs verdag. Want een mens se goeie ou dae was ’n ander se hel.

‘Ons is Woody Allens en Charlie Browns, ons oortuiging flakker soos ’n kersvlam in die wind.'

Ek dink nie skrywers durf namens ander praat nie, nie eens ander wat toevallig aan dieselfde generasie en ras as hulle behoort nie.

Ek praat nie van cultural appropriation nie: Plaas jou in enigeen se skoene, maar bring iets nuuts na die piekniek, moenie preek nie, moet liewer nie te seker van sekere sekerhede wees nie.

Want ons is Woody Allens en Charlie Browns, ons oortuiging flakker soos ’n kersvlam in die wind.

Wanneer daar dan iemand soos Steve Hofmeyr opstaan en met Eugène Terre’Blanche-stem en -diksie sekere onwrikbare verklarings maak, en sekere sogenaamde onvervreembare regte opeis, gril baie van ons. Want sulke karakters is ’n teruggryp na ’n onooglike verlede, na ou mans met grys skoene en skuim om die mond wat ons in Jeugweerbaarheid-periode met opruiende retoriek probeer breinspoel het.

Aardklop-debute gee my nuwe moed

Die kwik styg en te midde van die chaos moet ons Noord vind. Vir my was dit nog altyd kuns. Kuns wat wys, nie voorskryf nie.

Die helderste spieël van ’n tydsgees is teater, want dis vervlietend en gebeur nie twee keer op dieselfde manier nie. Ek praat nie van trefseker ou klassieke tekste wat telkens uit die dood opgewek word nie; ek praat van teater wat in die oomblik geskep en geslyp word.

Ek het op Aardklop na dié drie debute gaan kyk en moed geskep.

Christo Davids se Queenie-hulle is Brechtiaans en Beckettaans, maar pols met die energie van die Kaap. Dit gryp jou aan die keel en laat jou besin oor ontheemdheid en onsekerheid.

Wessel Pretorius se Wilde-als verander van gedaante soos rook of ’n droom. Dit bevraagteken herinneringe. Hiervoor is daar geen beter voertuie as Dawid Minnaar en Jana Cilliers nie.

Die een wat my bybly, is ’n verwerking van ’n boek wat reeds 25 jaar oud is: Die dinge van ’n kind deur Marita van der Vyver. Dis ’n grootwordroman oor ontnugtering. Nostalgie ja, maar nie na ’n bedeling van bevoorregting nie – na onskuld, weerloosheid, nuwe vlerke.

Cintaine Schutte as ’n sestienjarige in 1976 bly by my spook, want sy was ek. Só kan teater jou laat sien.

It is the best of times, it is the worst of times.

Bydraer

Deborah Steinmar is 'n onversadigbare leser, 'n skrywer en 'n redakteur by Protea Boekhuis. Sy het 'n geliefde, twee dogters en 'n kat.