Die boek is vol watertand-idees. Marita maak gebruik van die olywe-oes, oesters en foie gras. Kerstyd word kleinkoekies verslind, en Provensaalse Kersmaal word met die Dertien Nageregte afgesluit. Koningsterte word gebak met 'n gelukbringertjie weggesteek in 'n geurige amandelvulsel, asook stapels pannekoek. Dan is daar ook ingelegde ansjovis, eend, droë worse en gerookte hamme, gedroogde kabeljou, patees en konfyte. Sy maak seker dat die resepte sonder te veel moeite of onkoste buite Frankryk aangedurf kan word. Dis kos hierdie wat meer as net die lyf voed, dis kos wat die siel verwarm. Sielskos, hartlike kos, opregte kos. "À table!" bulder Alain uit die kombuis, bo-oor die musiek wat soos altyd vreeslik hard speel wanneer hy kook. "Kos is op die tafel!".